November 3rd, 2009

Gesprek in 'n nagklub

"Is dit melk wat jy daar drink?"
"Ja."
"Net melk?"
"Ja."
"Ek hoop dis ten minste 'n double."
"Dis neat, on the rocks."
Hy lag. "Hoekom drink jy melk?"
"Want ek is dors." (My ma sou dit 'n tipiese Aspergers-antwoord noem. Ek weet wat die doel van sy vraag is, maar ek aanvaar nie die onderliggende aanname nie, dus wil ek nie die vraag na sy verwagting beantwoord nie.)
"Nee, ek bedoel..." begin hy, maar hy laat dit vaar.
"Dis een van die dinge waarvan ek hou van hierdie plek," voeg ek by, sodat hy nie moet dink dat ek probeer lelik wees deur nie saam te speel nie. "Ek bedoel, hoeveel dansplekke is daar wat vir jou melk sal verkoop?"

'n Halfuur later sien ek 'n ou op die dansvloer wat 'n t-hemp aan het waarop daar staan, Celebrating Milk, en ek wys dit uit vir die outjie wat my uitgevra het oor my drinkgewoontes. Ek twyfel of die ou binne-in die t-hemp ook wel graag melk drink in 'n nagklub, maar ek behoort dit eintlik nie te betwyfel nie.